Sunday, April 10, 2011

Sterprofiel: Jannie de Bruin

KUL JOU HIER EN KUL JOU DAAR…
Ek’s g’n regte towenaar!

“Jammer, my kind, Oom kan nie regtig toor nie.  Oom is jammer om te hoor jou geld is weg, maar Siem Salla Biem gaan nie dié keer werk nie…”

Die teleurgestelde dogtertjie en haar twee maatjies loop druipstert weg, en neem ‘n stukkie van Oom Jannie de Bruin se hart saam met hulle.

Hy maak altyd tydens sy vertonings ‘n punt daarvan om pertinent vir die kinders te sê dis blote kulkuns of oëverblindery  -  vlugheid van die hand.

Sy vrou, Zurika, staan hom gereeld by op die verhoog, geklee in ‘n sigeuneragtige kaftang.  Vroeër jare het hy haar met kettings vasgemaak en dan het sy op asemrowende wyse ontsnap of hy het oor haar geloop terwyl sy bo-op glasskerwe of mespunte lê.  Vandag sien sy egter nie meer hiervoor kans nie. 

Hy roep gereeld niksvermoedende kinders uit die gehoor om hom te ‘assesteer’.  Om die gehoor verder betrokke te hou, laat hy hulle soms onder die indruk verkeer dat hulle hom uitgevang het met boereverneukery, net om hulle oomblikke later op hul neuse te laat kyk.  Dan kan mens nie anders nie as om te wonder:  watter  haas gaan hy volgende (letterlik en figuurlik) uit die hoed pluk!

Beskou jy jouself as ‘n ‘celebrity’?
Ag, nee wat!  Ons is Plain Janes.  Gewone mense wat jare lank getoer en opgetree het saam met groot name soos Al Debo, Charles Jacobie en Nico Carstens, om ‘n bestaan te maak.
“Sy kop is te klein daarvoor”, voeg Zurika van die kant af by.  “Op die verhoog is hy ‘n ekstrovert, want dán moet hy een wees, maar as hy daar afklim is hy vreeslik skaam en teruggetrokke.”

Herken mense jou gereeld op straat?  En hoe voel jy daaroor as dit gebeur?
Ek geniet dit nogal as mense wil geselsies aanknoop, maar wat ek die meeste geniet is as iemand in my biltongwinkel instap en twee keer kyk.  Dan vra hulle gewoonlik waar het hulle my vantevore gesien.  “Police File” is my gunsteling antwoord!

Het julle kinders en kleinkinders?  (Buiten nou natuurlik vir Tommie Thomson!)
Ons het twee seuns.  Nols (dis ‘n bynaam wat doerietyd vasgesteek het en vandag nog bly kleef) was 20 jaar predikant in Secunda en Baberton se distrik, maar hy het onlangs sy toga opgehang vir ‘n sekulêre beroep.  Hy’t altemit vyf grade agter sy naam.  Hy is pa van ‘n seun, Jady, en ‘n dogter, Romy.   
Ons ander seun, Sarel, oefen eerder sy spiere as sy verstand.  Sy seuntjie, Rokko, wys al reeds op eenjarige ouderdom dat hy in sy pa se voetspore wil volg as hy sy spiere bult.  Sarel beoefen reeds sedert die ouderdom van 15 liggaamsbou.

Julle is al 48 jaar getroud.  Hoe het jou gereelde toere julle gesinslewe beïnvloed?
Die seuns was destyds in die koshuis op Bloemfontein, maar aangesien daar ‘n nege jaar gaping tussen hulle was, was hulle nooit regtig maats nie.  Enige langnaweek of skoolvakansie was ‘n verskoning om op die vliegtuig te klim en ons te besoek, waar in die land die sirkus ookal op daardie stadium was.  ‘n Mens verlang!
Zurika brei verder uit en vertel hoedat die kinders nie met Jannie moes praat terwyl hy sy apparate op die verhoog uitpak nie, want dan is hy gefokus.  Elke dingetjie moet presies op die regte plek wees, anders kan dit ‘n toertjie in die wiele ry. 

Is Oudtshoorn jul aftree-dorp?
Jy kan seker so sê, ja.  Nie dat ons al afgetree is nie.  In ons bedryf het mens mos nie pensioen en medies en al daardie goeters nie, so mens tree nooit regtig af nie.  Ek het daar in Oudtshoorn ‘n biltongwinkeltjie met vars en geskilderde volstruiseiers, rugbyaandenkings en so meer, om die pot aan die kook te hou wanneer die optredes stiller maande beleef.  Wanneer ek egter op die pad is, is daar ‘n jong dametjie wat dit vir my bedryf.
Ons het jare lank in Heidelberg in die Transvaal gebly.  Dit was lekker sentraal.  As ons bedags by skole en kerkbasaars opgetree het (ses dae per week), kon mens darem altyd saans onder jou eie dak slaap.  ‘n Paar jaar gelede het Sarel egter ‘n gimnasium op Oudtshoorn kom oopmaak en gevra of ons nie ook daarheen wil verhuis nie.  Sy tydsberekening was net reg, want ons het onveilig begin voel daar in die Noorde.

Hoe vereenselwig jy jou Christenskap en jou beroep met mekaar?
Dis ‘n eerbare beroep!  My ma het my altyd vermaan met die woorde van Spreuke 1:10 waar daar in die ou vertaling geskryf staan:  “My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie.”                                                                                              
Ek gebruik die buikspraak om kinders Sondagskool toe te lok, veral daar in Oudtshoorn se Kleurlinggemeenskap.   Ek vleg ook altyd ‘n sedeles of twee in my buikspraakdialoog in.  Ek werk baie nou saam met die polisie in die distrik om kinders bewus te maak van die gevare wat dwelms, ontvoering en verkragting inhou.  Die kinders luister baie meer aandagtig na die poppe as na grootmense, so dis ‘n baie effektiewe manier om ook die evangelie uit te dra.

Die karavaan…is julle lief vir kamp?  Doen julle dit gereeld?
Ons verkies dit bo gastehuise wanneer ons toer, want dis geriefliker.  Ja, jy’t reg gehoor, geriefliker, want dan hoef jy nie gedurig heen-en-weer tussen die akkommodasie en die ‘venue’ te rits nie.  Gastehuise is ook nie almal ewe ‘oop’ vir diere nie, en ons het mos duiwe, ‘n konyn en ‘n maltese poedel, Tokkelossie, wat orals móét saam toer.  Dié outjie is ‘n ’72-model, van die goeie ou soort.  Die moderne karavane is te vol fieterjasies en plastiek gadgets  wat ‘n fortuin kos om te vervang as dit breek.  En dit gáán breek!  Die bakkie is spesiaal ingerig vir die diere se hokke en al die apparate en die ‘stel’ wat orals moet saamgaan.  Tokkelossie lê sommer by Zurika se voete, en daar’s ook genoeg plek vir die papegaai se hokkie.   

Is die ‘props’ selfgemaak, gekoop of ingevoer?
‘n Bietjie van elk.  Die ingevoerde goed se instruksies is gewoonlik in tien onleesbare tale, so ek  pluis dit maar self uit en gebruik dit soos wat dit vir mý die beste werk.  Somtyds sien ek iemand anders optree met presies dieselfde apparaat en dan lyk dit soos ‘n totaal ander toertjie, want ek maak dit my eie.     

Watter rol speel humor in jou vertonings?
Dis baie belangrik om die gehoor in jou sak te hê, anders kan jy vergeet van suksesvol wees.  Net gister het ek weer die toertjie gedoen met die ses ringe wat ‘n ketting maak.  Daar was ‘n seun en ‘n dogter saam met my op die verhoog.  Vir hom gee ek twee los ringe met die opdrag dat hy hulle aanmekaar moet heg, terwyl ek vir haar twee aanmekaar ringe gee en vra dat sy hulle moet losmaak.  Dan stap ek met opset vorentoe sodat hulle agter my rug kan omruil, tot groot vermaak van die gehoor.  Dan is ek kwansuis baie beïndruk, want albei het daarin geslaag om die opdrag uit te voer...  As hulle dit nie spontaan omruil nie, moedig Zurika hulle van agter die gordyn aan om dit te doen.

Hoe het dié beroep begin?  Het jy altyd geweet dis wat jy wou doen?
Ek is gebore met ‘n tong wat heeltemal vas is aan die onderkant van my mond.  Op twaalfjarige ouderdom het my ouers oorweeg om dit te laat knip, maar gelukkig is dit nooit gedoen nie.  Ek moes dus maar nog altyd kompenseer om sekere klanke soos ‘n “r” te kan uitspreek.  Toe kom ‘n Engelse dokter eendag oor my pad en vra hoe ek dit regkry om die tannies by die kerkbasaar te laat dink dat hulle op ‘n hondjie se stert trap, terwyl daar g’n hond naby is nie, en sonder dat my lippe beweeg.  Toe ek hom wys hoe ek die geluid voortbring en projekteer, toe laat hy uitbundig van hom hoor:  “My son, you’re a ventriloguist!”  Aanvanklik het ek nie eens geweet wat dié vreeslike woord beteken nie.  Hy het vir my ‘n boekie gestuur en ek het binne drie weke die kuns bemeester.  Later het die toertjies en buikspraak ‘n stokperdjie geword, en daarmee saam het my amateurstoei, wat ek op skool beoefen het in die plek van rugby, ontaard in beroepstoei saam met manne soos Jan Wilkens en vele ander.

Rofstoei is ook mos ‘n soort kulkuns, nie waar nie?
Nie daardie jare se rofstoei nie, hoor!  Ons het mekaar regtig lelik verniel.  Daar was ‘n beheerliggaam wat gesorg het dat jy geskors word as jy toneel speel in die kryt.  Toe was dit nog geklassifiseer as ‘n sport.  Later jare het dit verander na vermaak, met baie meer klem op die fisiese voorkoms en die vertoon rondom die geveg.  Ja, dis ‘n kuns om reg te val sonder om dronk of naar te word en iets te breek, maar ons het mekaar ráák geskop en dikwels baie seer gekry.  Nie soos die Amerikaanse weergawe wat deesdae op die televisie verskyn nie.

So van Amerika gepraat, wat dink jy van iemand soos David Copperfield en David Blaine se kulkunsies?
As iemand glo dat dit van die bose is, omdat hy ‘n hele boeing kan laat verdwyn, is hulle lekker laf.  Dis als kamera-truuks.  Danksy Hollywood is sien lankal nie meer glo nie!

Hier waar ons in die Paarl tussen die Cultivaria-vertonings ‘n blaaskansie geniet, loer ek kort-kort of my buidelsakkie nog om my lyf is en of die melk nog nie uit my tee verdwyn het nie.  Mens weet mos nooit...

En die wenner is...!

Die realitiet van  realiteitsprogramme

Waarom is dit só gewild?

As ‘n mens deesdae die televisie aanskakel en tussen die kanale rondspring, is die kans baie goed dat jy op enige gegewe tydstip op minstens één realiteitsprogram sal afkom, hetsy Suid-Afrikaans of Amerikaans.  En dan is die plaaslike program heel waarskynlik een wat oorgewaai het van oorsee af...
Toe ek onlangs die term ‘realiteitsprogramme’ google, kom ek tot my verbasing op allerlei name soos Proesstraat (wat eintlik improvisasie-teater is), Roer en Woes af, maar vir alle praktiese doeleindes sal ons vir die duur van hierdie artikel by die volgende definisie hou:
Realiteitsprogramme is TV-reekse waartoe deelnemers hulself vir die volle duur van die ongeveer 13 episodes verbind, ten einde die prys(-geld) te kan wen, terwyl hul stelselmatig deur beoordelaars, kykers, ander deelnemers óf ‘n kombinasie van bogenoemde rolspelers geëlimineer word.   
In die meeste gevalle neem mense deel vir die prysgeld, maar wanneer dit ‘n reeks vir bekende persone is, soos in die mees onlangse SA Survivor-reeks, is daar natuurlik bykomende faktore soos publisiteit en ook die feit dat welsynsorganisasies daarby sou baatvind.  Volgens Okkert Brits is hy bly dat hy deelgeneem het, want as hy dit nie gedoen het nie, sou hy homself verwyt het as hy eendag 50 jaar oud is en nooit weer so ‘n geleentheid gekry het nie. 
As ‘n mens egter sien hoeveel duisende ‘stortsangers’ bereid is om hul eie name met ‘n plank te slaan in die eerste rondte van Idols, is sekere lede van die publiek eenvoudig desperaat op soek na ‘five minutes of fame’.  Wat Boer soek ‘n vrou betref, is die ‘prys’ die lewensmaat en sielsgenoot wat aan die einde van die reënboog wag om jou hart te steel.
Lynda Smuts van Malmesbury, wat ‘n lelike bloutjie geloop het tydens die tweede reeks, waarsku in die September-uitgawe van Sarie alle voornemende briefskrywers om twee keer te dink voordat hulle hulself blootstel aan die kritiek en oordeel van die kykerspubliek.  Sy voel dat sy in ‘n baie swak lig gestel is weens die wyse waarop gesprekke en tonele geredigeer is, aangesien soveel ure tot ‘n enkele episode gereduseer moet word.  In die proses is haar ware karakter nie uitgebeeld nie.
Idols-kykers bevind hulself in ‘n vreemde magsposisie deurdat hulle die hef in die hand het met die SMS-stemstelsel.  Ja, die einste stemstelsel wat vir groot kontroversie gesorg het aan die einde van die 2009-reeks, toe sowat 200 000 stemme buite rekening gelaat is, met die gevolg dat Sasha-Lee Davids en Jason Hartman op die end die kroon moes deel.   Boer soek ‘n vrou se soeke na romanse en kykers se vooropgestelde idees van wie by wie pas, maak dat hulle nooit hul weeklikse dosis misloop nie.  Volgens KykNet se Theo Erasmus word die reeks verfilm met deernis, sodat kykers hulle behoorlik kan verkneukel en verlustig in die ontvouing van die een intrige na die ander.  Survivor-slawe  word op hul beurt geboei deur die onvoorspelbaarheid van die spel, die rugstekery, die menslikheidsfaktor en die tipiese ek-wonder-wat-ek-sou-gedoen-het-scenarios.

Draaiboekskrywer en vervaardiger Johan van Jaarsveld het hom onlangs, in ‘n episode van KykNet se Sewe Sakke Sout, sterk uitgespreek teen realiteitsprogramme:  “Dit het mense gewoond gemaak aan die sensasionele, baie sleg tegnies uitgebeeld.  ‘n Ding soos ‘n slegte kameraskoot bestaan nie meer nie.  Die mense kyk daarna soos na ‘n rugbywedstryd en hulle glo dit wat hulle sien is absoluut wonderlik.  Dit hou hulle vasgenael voor die televisie.  Dít maak dat begrotings vir dramas, wat gestruktureerd en geoefend en binne sekere dissiplines móét plaasvind, minder word.  Die argument is  -  as ons goeie kyksyfers kan kry op só ‘n klein begroting, hoekom kan júlle dit nie doen vir drama nie?”
Tydens Survivor word Pick ‘n Pay  se naamlose produkte nonchalant as vergoeding aangebied wanneer ‘n span ‘n uitdaging wen en die reeds genoemde Idols-fiasko van 2009 het OutSurance glad nie daarvan afgesit om weer die reeks te borg nie, want risiko is tog waaroor versekering eintlik gaan.  Intussen floreer Huisgenoot en Landbouweekblad, want Boer soek ‘n vrou sorg gereeld vir opspraakwekkende gebeure wat verkoopsyfers die hoogte laat inskiet.  Sensasie is immers presies waarna hulle en hul lesers opsoek is.
Hopelik weeg talent die swaarste wanneer Idols-aanhangers hul oordeel fel, met ‘n onvermydelike mate van voorkoms en eerste indrukke daarby.  ‘n Kombinasie van fisieke krag, ‘n sterk karakter, manipulasie-vermoëns en  aanpasbaarheid tel beslis in ‘n Survivor se guns.   Elma Postma het al by geleentheid Boer soek ‘n vrou se boere beskryf as “ware juwele wat landwyd weggesteek is  -  aantreklik en intelligent, met harte van goud”.  Te oordeel aan die hoeveelheid briewe wat elkeen ontvang, speel die ligging van die plaas, die tipe boerdery en hul sjarme en charisma ook ‘n deurslaggewende rol.
Sandi Schultz, beter bekend as Dr. Jennifer Adams van Binneland Sub Judice-faam, was ‘n deelnemer in die mees onlangse reeks van Survivor.  Sy was dapper genoeg om die volgende ongemaklike vrae te beantwoord:
Hoekom het jy aan Survivor deelgeneem?
Ek het geweet ek is ‘n Survivor in my eie lewe, maar ek veronderstel op ‘n manier wou ek dit aan die res van
die wêreld ook bewys.  En belangriker nog, ek wou wys waartoe vroue van my ouderdom (46) nog in staat is.
Ek het nooit verwag om te wen nie.  Ek wou net die fisiese omstandighede oorleef. 
Hoe realisties is dit regtig?
Dit is so realisties as wat die regisseur en die vervaardiger dit wil hê.  Alles het regtig gebeur, net nie
noodwendig in die volgorde waarin dit geredigeer is nie.   As jy daar op die eiland toilet toe wil gaan, moet jy
ver stap na die aangewese area wat daarvoor bedoel is.  As jy jou tande wil borsel, soek jy ‘n stokkie en kou
dit totdat dit sag genoeg is om te gebruik.  As jy wil bad, gaan jy in die oseaan in en skrop jouself met ‘n
handvol sand.  As jy nie swem en probeer visvang of boomklim opsoek na kokosneute nie, sál jy honger ly. 
Hoe keer ‘n deelnemer terug na die normale lewe as die reeks verby is? 
Dit was ‘n skok vir die sisteem en terselfdertyd ‘n anti-klimaks.  Binne 24 uur nadat ek uitgestem is, is ek na
‘n vyfster-hotel geneem waar ek bederf is en op die hande gedra is.  Ek kon my tande borsel en mengel-
drankies drink.  Toe ek die eerste keer die yskas oopmaak het, het ek net daar gestaan en kyk...
As jy dit weer móét doen, wat sal jy anders doen?
Een ding is seker  -  dit was nie maklik nie.  Ek het nie vooraf ‘n studie gemaak van vorige reekse om te sien wat die wenners gedoen het om bo uit te kom nie.  Ek het vriende gemaak op die eiland, ten koste van myself.   Dis waarskynlik hoekom ek nie end-uit gebly het nie.  As ek dit moes oordoen, sal ek presies dieselfde doen, want dit is wie en wat ek is!
Watter rol het jou geloofslewe gespeel tydens die reeks?
Ek kan nie regtig sê dat geloof ‘n belangrike rol gespeel het nie.  Spiritualiteit wel.
Is dit moontlik om te alle tye Christelike beginsels soos eerlikheid en integriteit uit te leef, en steeds te wen?
Ek sou graag so wou glo, ja!  Dit hang seker af van die tipe realiteitsprogram...of dit Big Brother  of The Bachelor  of Survivor is.  In sommige gevalle sal dit makliker wees as in ander.

En die wenner is...!                                 

Stel jou voor dat daar drie deelnemers in ‘n huis intrek.  Die spens se rakke kreun onder die onbeperkte hoeveelheid voorrade wat daagliks aangevul word.  Deelnemer nommer een ontvang ‘n koekroller, ‘n deegspaan, maatkoppies, ‘n klitser en ‘n koekiedrukker.  Deelnemer nommer twee ontvang ‘n houtlepel en ‘n soplepel, en nommer drie ontvang ‘n blikoopmaker.  

Die opdrag is eenvoudig:  Maak iets wat jy daagliks aan die publiek kan verkoop by die luik in die tuinmuur.  Die beste entrepreneur sal as wenner wegstap.

Nommer drie kry homself vreeslik jammer en gaan steek sy blikoopmaker onder sy kopkussing in die kamer weg.  Nommer twee kook elke dag ‘n pot boontjiesop en ‘n pot ertjiesop, en die verkoopsyfers lyk heel skaflik, veral op kouer dae.  Deelnemer nommer een bak skons, muffins, grootkoeke, kleinkoekies en beskuit, en sy produkte verkoop soos soetkoek!

 Aan die einde van die eerste week is dit tyd om iemand huis toe te stuur.  Big Brother is in sy noppies met Apprentice no. 1 en no. 2, maar no. 3 se blikoopmaker word summier van hom af weggeneem en ook aan no. 1 gegee, waarna hy die huis moet verlaat, want hy is sonder twyfel die Weakest Link.   No. 1 kan nou terte by sy repertoire  voeg, want uiteindelik het hy toegang tot karamelkondensmelk en tertappels.

Persoonlik hou ek meer van die ou vertaling van die bekende gelykenis oor die muntstukke, want daar praat hulle mos van talente.  Nietemin, daardie ongemaklike teksvers wat mense so graag buite konteks misbruik, maak soveel meer sin as mens deur die realiteitsbril daarna kyk:  “Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê;  maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.””  -  Matteus 25 : 29

Of dit nou die gawe is om te sing, te bid, te kook, te getuig, te skryf, te skilder...gebruik dit elke dag ten volle, want een of ander tyd sal jy moet rekenskap gee van dit wat jy daarmee bereik het.  Gaan jy ‘n Survivor wees, of dalk die Biggest Loser? 

Volgende keer as jy jou gemaklik maak in jou gunsteling leunstoel met die afstandbeheer in die een hand en die selfoon in die ander hand, dink mooi watter deelnemer verdien jou stem.  Met watter karakter kan jy identifiseer?  Wie se optrede is realisties dog bewonderingswaardig?  Terwyl jou vlytige vingers die stemmery afhandel, sit agteroor en geniet die privaatheid van jou eie huis, die higiëne van jou badkamer en die toeganklikheid van jou yskas.   O ja, en hou tog daardie verwagtinge realisties!   

Soos 'n dief in die nag...

Soos ‘n dief in die nag…                    

Ons was ook daar om die inploffing te kyk.  Ek en my vrou, skoonma en ons twee ‘rokkies’.  Daar is haastig ná kerk verklee in iets meer gemakliks en omstreeks 11vm het ons in die pad geval, want op ‘n Sondagoggend is Athlone se koeltorings skaars ‘n halfuur se ry van die huis af.

Teen twintig voor twaalf het ons stelling ingeneem en eers ná omtrent tien minute agtergekom ons is die enigste blankes in Tarentaalstraat se groenstrook, wat volgens die kaartboek se skaal sowat 600 meter van die gevaarsone geleë is.  Aangesien joernaliste oor en oor beklemtoon het dat dit stiptelik om twaalfuur sou plaasvind, het ek my klaargemaak vir ‘n aftelling deur die skare, gesinkroniseer met toeskouers by Rhodes Memorial en ander uitkykpunte, danksy motorradios wat plek-plek blêr. 

Met nagenoeg sewe minute se wagtyd wat oorbly begin daar toe ‘n reënbui uitsak en kameras en selfone moes dekking neem.  Die volgende oomblik hoor ons ‘n harde knal en toe ek opkyk is die eerste toring reeds halfpad inmekaar gesak, met die tweede een wat kort op sy hakke volg.  Ag sekondes later is ‘n reuse stofwolk al wat oor is van ‘n konstruksie wat vier jaar geneem het om op te rig.  Wat ‘n anti-klimaks!

Almal is onkant gevang deur die druk van ‘n knoppie wat 3 minute 37 sekondes vroeër plaasgevind het as wat enige iemand sou verwag, en dis toe dat dit my tref soos ‘n emmer koue water:  Daar is gedurig mense wat op grond van wetenskaplike of selfs teologiese navorsing voorspel wanneer Jesus weer op die wolke gaan kom.  Party sê 2012, ander praat weer van 2020.    Hoe dit ookal syn, onverwags sal dit wees, want die Skrif sê so.  Selfs die engele in die hemel sal nie weet wanneer die uur aangebreek het nie.

Wat is die mens dan, dat hy homself hoër kan ag as die engele en sulke voorspellings kan maak?  As ons onsself kinders van God noem, moet ons altyd gereed wees;  nooit kwaad gaan slaap nie;  in vrede en harmonie leef met almal rondom ons;  getuig deur ons woorde én dade;  bid vir verlore siele;  self sendingwerk doen of dit vir ander moontlik maak deur hulle finansieel te ondersteun. 

As kind het ek altyd gewonder of die sewe kontinente weer soos legkaartstukke inmekaar gaan pas, want hoe kan die Here nou gelyktydig in Suid-Afrika en in China, aan die anderkant van die wêreld, kom?  Vandag is ek oud en wys genoeg om te weet dis nie ter sake nie.  Dis ver bo ons begrip en verstand, net soos ons Skepper.  Al wat wel saakmaak, is dat ons gereed sal wees, want dit gaan gebeur wanneer ons dit die minste verwag, sonder ‘n aftelling, soos ‘n dief in die nag...  

Hoekom Sapiens

Hoekom Sapiens...
My oorlede ma was altyd spyt dat sy nooit, soos haar bekende patoloog-ouboet, medies gaan swot het nie.  Die menslike liggaam het haar altyd gefassineer.  Ek, aan die ander kant, raak lighoofdig as iemand net práát van daardie rooi goed wat in ons are vloei  -  wat nog te sê daarna kyk! 
Wat my fassineer is mense se gewoontetjies.  In daardie opsig aard ek seker na my pa, want hy het ná sy aftrede soggens én middae in sy gunsteling koffiewinkel deurgebring en meer vir die verbygangers gekyk as wat hy werklik in die koerant of tydskrif op die tafel voor hom gelees het.
So wonder ek oor die volgende verskynsels en is eindeloos opsoek na antwoorde vir dié vreemde verskynsels:
1.     HOEKOM verkies sommige mense om vir die hysbak te wag, sonder dat hulle ‘n stootwaentjie of winkeltrollie rondstoot?  Dit terwyl ek wens my twee ‘rokkies’ was nou al groot genoeg om met dapper en stapper die wandelgange e rolstrappe te trotseer.  Veral sedert ‘n naby familielid eenmaal tydens ‘n kragonderbreking haar weekoue seuntjie in ‘n deursigtige hysbak moes voed, ten aanskoue van tientalle kassiere wat gewag het dat die kragkrisis opgelos word.
2.    HOEKOM spandeer ‘n mens ‘n reuse hap uit jou wintervakansie om ‘n legkaart sorgvuldig te bou, net om hom weer te vernietig tot ‘n volgende keer?  Die blou lug se stukkies lyk later almal ewe blou en ewe skeef en krom.  Maar jy druk deur, want die satisfaksie van die voltooide meesterstuk en die bewondering van jou huismense en besoekers maak dit alles die moeite werd.  ‘n Paar dae later word die eetkamertafel benodig vir die een of ander okkasie en die onvermydelike kan nie verder uitgestel word nie.  Eina!  Daar gaan al jou harde werk terug in die boksie waar hy vandaan gekom het ...tot ‘n volgende foltering.
3.     HOEKOM is die puntsitters altyd eerste by die kerk?  Dié wat nie omgee om in die middel van die blok te sit nie, arriveer gewoonlik op die nippertjie en moet met moeite verby skuur om ‘n sitplekkie te kry.  Die ironie is dat dit juis die laatkommers is wat nodig het om naby die paadjie te sit, want dis die jongspan, wat tydig en ontydig wil gaan ‘fluit’, wat veroorsaak het dat die gesin op nommer 99 arriveer het. 
4.    HOEKOM verkies die meerderheid mense om op die trapmeul in die gimnasium hulself moeg te stap of hardloop op pad na nêrens, terwyl hulle eerder in hul eie buurt of iewers in die natuurskoon vars lug kon inasem?  Daar buite is veel interessanter dinge om te sien en hoor as op die miniatuur televisieskermpie wat veronderstel is om die oefenfanatici te vermaak.  Wie stel in elk geval belang in die oorsese markte of walglike musiekvideos wat dié kanale oorheers?  Nie eens ‘n hamster op ‘n wieletjie nie, as jy my vra.
5.    HOEKOM parkeer al meer mense op plekke wat vir liggaamlik gestremdes gereserveer is, terwyl hulle en hul passasiers absoluut niks makeer nie?  Hulle behoort dankbaar te wees dat hulle nie met ‘n voertuig hoef te ry wat ten duurste aangepas moes word met handkontroles en ‘n meganisme vir die rolstoel op die dak nie.  As hulle voor die keuse te staan kom, sal hulle beslis kies om verder te parkeer, eerder as om rolstoelgebonde te wees, so waarom lééf hulle nie hierdie keuse uit nie?   
6.    HOEKOM het die meerderheid gratis televisiekanale deesdae ‘n inkopie-uur in die middel van die dag, waar die een uitgerekte, herhalende advertensie na die ander vertoon word?   Dan moet daar mos sowaar mense wees wat daarna kyk.  “En dis nie al nie!”  Daar moet inderdaad genoeg ondersteuning van kopers wees, anders sou dit mos nie finansieel haalbaar gewees het om soveel lugtyd te koop vir daardie betrokke produk of diens nie.     
7.    HOEKOM vergelyk ons onsself voortdurend met ander?  My status in die samelewing, my motors, my huis, my liggaamsbou, my kinders se sportprestasies en akademie.  Ons is elkeen uniek geskape.  Wees liewer net die beste JY wat jy kán wees en vergeet van die res.  Dit lyk dalk op die oog af of dit met die buurman of kollega so wonderlik goed gaan, maar elke huis het maar sy kruis.  Party s’n is medies of finansieel van aard, ander se verhoudinge of werksomstandighede dryf hul teen die mure uit.  Die Joneses leef waarskynlik agter maskers om húl seer en teleurstellings vir die res van die wêreld weg te steek.  Geld is gerieflik, daarmee kan niemand stry nie, maar daar is baie dinge wat mens nie daarmee kan koop nie.
8.    HOEKOM doen ons nie aan ander soos ons aan onsself gedoen wil hê nie?  As jy te laat besef dat jy in die verkeerde baan is om regs te draai, hoop jy vir die beste dat iemand in daardie einste baan vir jou ‘n gaping sal gee, maar wanneer iemand anders môre in ‘n soortgelyke penarie verkeer, maak jy asof jy hom nie sien nie en ry ast’ware op die ander motor se buffer, net om seker te maak.  Jesus het in Matteus 7:12 gesê:  “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” 
9.    HOEKOM mors ons so met kos?  Ons verbeel ons mos dat daar Sondae rys, vleis en aartappels op die spyskaart móét wees.  Om van die soetpatats en glansworteltjies  nie te praat nie.  En wat is ‘n Sondagmaal sonder doekpoeding?!  Dit steek my altyd dwars in die krop om te sien hoeveel kos op mense se borde agterbly wanneer dit kombuis toe gaan, veral by troues en ander funksies waar hulle die geleentheid gehad het om self te skep by ‘n buffet-ete.  Hulle het mos gewéét hulle gaan dit nie alles baasraak nie!
10. HOEKOM ontleed ‘n mens so graag die onbeplande gebeure in jou lewe, in ‘n poging om God se doel daarmee vas te stel?  Ons is gedurig op soek na ‘n rede en uiteindelik spekuleer ons in elk geval net, want dit is ons nie beskore om als te weet en te verstaan nie.  Paulus het immers in 1 Korinthiërs 13:12 geskryf: “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werlik is.  Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”
Bestaan daar ooit antwoorde op hierdie raaisels?  Ek weet sowaar nie.  Ek weet wel die mens, ook bekend as Homo Sapiens, is en bly nou maar eenmaal ‘n interessante spesie, hetsy van binne of buite gesien!  

Saturday, April 9, 2011

Ystervrou en speldekussing tegelyk

Helen Zille  - 
ystervrou en speldekussing tegelyk
Deur Retief Loubser
Die voormalige Britse Eerste Minister, Margaret Thatcher, het by geleentheid gesê dat sy haar in die politiek begewe het weens die konflik tussen goed en kwaad, maar dat sy glo die goeie sál uiteindelik oorwin.
Op Maandag, 25 Oktober 2010 het ons eie Ystervrou en Premier van die Wes-Kaap, Me. Helen Zille, die senior lidmate van Stellenberg N.G. Kerk kom toespreek, nadat die geleentheid reeds twee keer uitgestel moes word as gevolg van krisisse wat elders opgeduik en haar onmiddellike aandag geverg het.  Die doel van haar besoek was om te vertel hoe moeilik, maar uiters belangrik, dit is om haar geloofslewe en haar beroep met mekaar te vereenselwig.   
Ter inleiding het sy ‘n staaltjie gedeel rondom die lewe van die tweede president van die VSA, John Adams, wie se vrou, Abigail, op ‘n stadium per brief haar lot bekla het dat sy soos ‘n enkelouer moes voort ploeter terwyl haar man byna nooit tuis was nie.  Sy antwoord, ook per brief, was as volg:  I must study politics and war, that our sons may have liberty to study mathematics and philosophy. Our sons ought to study mathematics and philosophy, geography, natural history and naval architecture, navigation, commerce and agriculture in order to give their children a right to study painting, poetry, music, architecture, statuary, tapestry and porcelain.”   In elke suksesstorie van ‘n demokrasie is daar mense wat dit bewerkstellig het.  Die VSA het daarin geslaag om ‘n raamwerk daar te stel en jare later het hulle die vrugte gepluk van ‘n demokrasie waar godsdiensvryheid vandag nog beskerm word.  Net so moet ons ook ons verantwoordelikheid teenoor opkomende geslagte nakom.    
“Dus is dit geweldig belangrik dat ons nie sinies is jeens die politiek nie, maar dat ons verstaan hoe geweldig belangrik dit is dat ons in hierdie geslag en ook die volgende geslag daarin sal slaag om die raamwerk en die wortels van die regstaat in Suid-Afrika te vestig, sodat ons kinders ook hulle regte as vanselfsprekend sal kan beskou en in vryheid en in ‘n ekonomiese, groeiende volhoubare land hul toekoms sal kan bou.” 
Voorts het Me. Zille, met die Afrikaanse Bybel in haar hand, twee skrifgedeeltes in Engels geresiteer.  Die eerste was uit Miga 6:8.  “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:  Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.”   Die tweede gedeelte was die alombekende opsomming van die Wet soos opgeteken in Matteus 22:37 & 38.  “Jesus antwoord hom:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.  Dit is die grootste en die eerste gebod.  En die tweede, wat hiermee gelyk staan is:  Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ “   
Die Here het egter nooit gesê presies hoe moeilik dit soms mag wees om hierdie opdragte uit te voer nie.  Veral nie as daar mense is wat altyd bereid is om ‘n situasie te gebruik vir eie politieke gewin nie. Daarom lê sy letterlik nagte wakker oor die grondkwessies in Hangberg, Houtbaai.  “Mens is nooit seker of jy die regte besluite geneem het nie, want daar is argumente en teen-argumente uit alle oorde.  En midde-in hierdie Babelse verwarring moet mens ‘n besluit neem.”

Dit bring ons by nog ‘n parallel tussen haar en Margaret Thatcher, wie soos volg aangehaal kan word:  If you set out to be liked, you would be prepared to compromise on anything at any time, and you would achieve nothing.”  Me. Zille is bekend daarvoor dat sy opstaan vir die waarheid, reeds sedert haar dae as joernalis, want sy glo vas as dit by regte en vryhede kom is “’n onreg aan een ‘n onreg aan almal.” 
In reaksie tot die vergelyking tussen haar en Margaret Thatcher, het sy die kompliment soos volg ontvang:  “Mense maak die vergelyking omdat ons albei politici is in moeilike tye waar ons besluite moes maak, te midde van sterk teenstanders.  Dis nie altyd maklik om ‘n pad te loop terwyl mense jou heeltyd probeer kelder nie.  Sy’t dit beleef en dit baie goed gedoen en ek moet in ‘n heel ander omstandigheid my eie pad probeer vind.  Ek dink ek is makliker van stryk gebring.  Ek is te geneig om na ander mense te luister en te dink dalk het hulle ‘n punt beet...”  
Ten slotte doen sy ‘n ernstige beroep op kerke om te help om kinders van die strate af te hou in ‘n poging om dwelmmisbruik te bekamp, want daar word jaarliks R6 miljard bestee aan die gevolge van drank- en dwelmafhanklikheid  -  geld wat baie beter aangewend sou kon word op vele ander terreine.  Kerke moenie alleenlik op Sondae oop wees nie, maar daar moet elke dag vrywilligers wees om te help met huiswerk, sportafrigting en ander gesonde vermaak en rekreasie in gebiede waar familiewaardes skipbreuk ly.  Kinders hunker na ‘n toekomsvisie en het ‘n behoefte aan rolmodelle wat daagliks goeie sedes en waardes uitleef.
Terwyl sy vertel van die probleme op nogmaals probleme rondom die grondbesettingskwessies in Houtbaai en die dwelmverslawing van derduisende jongmense, besef ek hoe gepas die fynbosrangskikking daar neffens haar is.  Sy is in vele opsigte ‘n speldekussing.  Nou wel nie ‘n lid van die Kaapse flora nie, maar daagliks word daar nuwe naalde en spelde bygevoeg.  Sonder om te kla aanvaar sy hulle maar gelate, want dis mos haar werk.   Netelige kwessies onder die vaandel van gesondheidsorg, opvoeding, behuising of maatskaplike sorg.  Almal maak seer.  Party meer as ander, maar wanneer sy so openhartig daaroor praat, slaan haar stem kort-kort deur omdat dit sake is wat haar werklik na aan die hart lê.  Soos die e-pos wat sy ontvang het van ‘n dowe dogter wat op eie houtjie fondse insamel vir ‘n gehoorapparaat, omdat haar ouers nie een kan bekostig nie.  In haar privaat hoedanigheid kan sy somtyds ‘n verskil help maak, maar as premier is daar soveel kanale en prosedures wat gevolg moet word en oral is daar nood.
Dan verstaan ‘n mens waarom sy in 2007 openlik haar steun getoon en in die proses arrestasie in die gesig gestaar het toe sewe betogers in Mitchell’s Plein hul standpunt teen dwelms gelug het, maar in dieselfde asem ook waarom sy in 2008 as Wêreld Burgemeester van die Jaar aangewys is.  Inderdaad ‘n formidabele vrou...’n ystervrou wat ons voortdurende voorbidding bitter nodig het!