KUL JOU HIER EN KUL JOU DAAR…
Ek’s g’n regte towenaar!
“Jammer, my kind, Oom kan nie regtig toor nie. Oom is jammer om te hoor jou geld is weg, maar Siem Salla Biem gaan nie dié keer werk nie…”
Die teleurgestelde dogtertjie en haar twee maatjies loop druipstert weg, en neem ‘n stukkie van Oom Jannie de Bruin se hart saam met hulle.
Hy maak altyd tydens sy vertonings ‘n punt daarvan om pertinent vir die kinders te sê dis blote kulkuns of oëverblindery - vlugheid van die hand.
Sy vrou, Zurika, staan hom gereeld by op die verhoog, geklee in ‘n sigeuneragtige kaftang. Vroeër jare het hy haar met kettings vasgemaak en dan het sy op asemrowende wyse ontsnap of hy het oor haar geloop terwyl sy bo-op glasskerwe of mespunte lê. Vandag sien sy egter nie meer hiervoor kans nie.
Hy roep gereeld niksvermoedende kinders uit die gehoor om hom te ‘assesteer’. Om die gehoor verder betrokke te hou, laat hy hulle soms onder die indruk verkeer dat hulle hom uitgevang het met boereverneukery, net om hulle oomblikke later op hul neuse te laat kyk. Dan kan mens nie anders nie as om te wonder: watter haas gaan hy volgende (letterlik en figuurlik) uit die hoed pluk!
Beskou jy jouself as ‘n ‘celebrity’?
Ag, nee wat! Ons is Plain Janes. Gewone mense wat jare lank getoer en opgetree het saam met groot name soos Al Debo, Charles Jacobie en Nico Carstens, om ‘n bestaan te maak.
“Sy kop is te klein daarvoor”, voeg Zurika van die kant af by. “Op die verhoog is hy ‘n ekstrovert, want dán moet hy een wees, maar as hy daar afklim is hy vreeslik skaam en teruggetrokke.”
Herken mense jou gereeld op straat? En hoe voel jy daaroor as dit gebeur?
Ek geniet dit nogal as mense wil geselsies aanknoop, maar wat ek die meeste geniet is as iemand in my biltongwinkel instap en twee keer kyk. Dan vra hulle gewoonlik waar het hulle my vantevore gesien. “Police File” is my gunsteling antwoord!
Het julle kinders en kleinkinders? (Buiten nou natuurlik vir Tommie Thomson!)
Ons het twee seuns. Nols (dis ‘n bynaam wat doerietyd vasgesteek het en vandag nog bly kleef) was 20 jaar predikant in Secunda en Baberton se distrik, maar hy het onlangs sy toga opgehang vir ‘n sekulêre beroep. Hy’t altemit vyf grade agter sy naam. Hy is pa van ‘n seun, Jady, en ‘n dogter, Romy.
Ons ander seun, Sarel, oefen eerder sy spiere as sy verstand. Sy seuntjie, Rokko, wys al reeds op eenjarige ouderdom dat hy in sy pa se voetspore wil volg as hy sy spiere bult. Sarel beoefen reeds sedert die ouderdom van 15 liggaamsbou.
Julle is al 48 jaar getroud. Hoe het jou gereelde toere julle gesinslewe beïnvloed?
Die seuns was destyds in die koshuis op Bloemfontein, maar aangesien daar ‘n nege jaar gaping tussen hulle was, was hulle nooit regtig maats nie. Enige langnaweek of skoolvakansie was ‘n verskoning om op die vliegtuig te klim en ons te besoek, waar in die land die sirkus ookal op daardie stadium was. ‘n Mens verlang!
Zurika brei verder uit en vertel hoedat die kinders nie met Jannie moes praat terwyl hy sy apparate op die verhoog uitpak nie, want dan is hy gefokus. Elke dingetjie moet presies op die regte plek wees, anders kan dit ‘n toertjie in die wiele ry.
Is Oudtshoorn jul aftree-dorp?
Jy kan seker so sê, ja. Nie dat ons al afgetree is nie. In ons bedryf het mens mos nie pensioen en medies en al daardie goeters nie, so mens tree nooit regtig af nie. Ek het daar in Oudtshoorn ‘n biltongwinkeltjie met vars en geskilderde volstruiseiers, rugbyaandenkings en so meer, om die pot aan die kook te hou wanneer die optredes stiller maande beleef. Wanneer ek egter op die pad is, is daar ‘n jong dametjie wat dit vir my bedryf.
Ons het jare lank in Heidelberg in die Transvaal gebly. Dit was lekker sentraal. As ons bedags by skole en kerkbasaars opgetree het (ses dae per week), kon mens darem altyd saans onder jou eie dak slaap. ‘n Paar jaar gelede het Sarel egter ‘n gimnasium op Oudtshoorn kom oopmaak en gevra of ons nie ook daarheen wil verhuis nie. Sy tydsberekening was net reg, want ons het onveilig begin voel daar in die Noorde.
Hoe vereenselwig jy jou Christenskap en jou beroep met mekaar?
Dis ‘n eerbare beroep! My ma het my altyd vermaan met die woorde van Spreuke 1:10 waar daar in die ou vertaling geskryf staan: “My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie.”
Ek gebruik die buikspraak om kinders Sondagskool toe te lok, veral daar in Oudtshoorn se Kleurlinggemeenskap. Ek vleg ook altyd ‘n sedeles of twee in my buikspraakdialoog in. Ek werk baie nou saam met die polisie in die distrik om kinders bewus te maak van die gevare wat dwelms, ontvoering en verkragting inhou. Die kinders luister baie meer aandagtig na die poppe as na grootmense, so dis ‘n baie effektiewe manier om ook die evangelie uit te dra.
Die karavaan…is julle lief vir kamp? Doen julle dit gereeld?
Ons verkies dit bo gastehuise wanneer ons toer, want dis geriefliker. Ja, jy’t reg gehoor, geriefliker, want dan hoef jy nie gedurig heen-en-weer tussen die akkommodasie en die ‘venue’ te rits nie. Gastehuise is ook nie almal ewe ‘oop’ vir diere nie, en ons het mos duiwe, ‘n konyn en ‘n maltese poedel, Tokkelossie, wat orals móét saam toer. Dié outjie is ‘n ’72-model, van die goeie ou soort. Die moderne karavane is te vol fieterjasies en plastiek gadgets wat ‘n fortuin kos om te vervang as dit breek. En dit gáán breek! Die bakkie is spesiaal ingerig vir die diere se hokke en al die apparate en die ‘stel’ wat orals moet saamgaan. Tokkelossie lê sommer by Zurika se voete, en daar’s ook genoeg plek vir die papegaai se hokkie.
Is die ‘props’ selfgemaak, gekoop of ingevoer?
‘n Bietjie van elk. Die ingevoerde goed se instruksies is gewoonlik in tien onleesbare tale, so ek pluis dit maar self uit en gebruik dit soos wat dit vir mý die beste werk. Somtyds sien ek iemand anders optree met presies dieselfde apparaat en dan lyk dit soos ‘n totaal ander toertjie, want ek maak dit my eie.
Watter rol speel humor in jou vertonings?
Dis baie belangrik om die gehoor in jou sak te hê, anders kan jy vergeet van suksesvol wees. Net gister het ek weer die toertjie gedoen met die ses ringe wat ‘n ketting maak. Daar was ‘n seun en ‘n dogter saam met my op die verhoog. Vir hom gee ek twee los ringe met die opdrag dat hy hulle aanmekaar moet heg, terwyl ek vir haar twee aanmekaar ringe gee en vra dat sy hulle moet losmaak. Dan stap ek met opset vorentoe sodat hulle agter my rug kan omruil, tot groot vermaak van die gehoor. Dan is ek kwansuis baie beïndruk, want albei het daarin geslaag om die opdrag uit te voer... As hulle dit nie spontaan omruil nie, moedig Zurika hulle van agter die gordyn aan om dit te doen.
Hoe het dié beroep begin? Het jy altyd geweet dis wat jy wou doen?
Ek is gebore met ‘n tong wat heeltemal vas is aan die onderkant van my mond. Op twaalfjarige ouderdom het my ouers oorweeg om dit te laat knip, maar gelukkig is dit nooit gedoen nie. Ek moes dus maar nog altyd kompenseer om sekere klanke soos ‘n “r” te kan uitspreek. Toe kom ‘n Engelse dokter eendag oor my pad en vra hoe ek dit regkry om die tannies by die kerkbasaar te laat dink dat hulle op ‘n hondjie se stert trap, terwyl daar g’n hond naby is nie, en sonder dat my lippe beweeg. Toe ek hom wys hoe ek die geluid voortbring en projekteer, toe laat hy uitbundig van hom hoor: “My son, you’re a ventriloguist!” Aanvanklik het ek nie eens geweet wat dié vreeslike woord beteken nie. Hy het vir my ‘n boekie gestuur en ek het binne drie weke die kuns bemeester. Later het die toertjies en buikspraak ‘n stokperdjie geword, en daarmee saam het my amateurstoei, wat ek op skool beoefen het in die plek van rugby, ontaard in beroepstoei saam met manne soos Jan Wilkens en vele ander.
Rofstoei is ook mos ‘n soort kulkuns, nie waar nie?
Nie daardie jare se rofstoei nie, hoor! Ons het mekaar regtig lelik verniel. Daar was ‘n beheerliggaam wat gesorg het dat jy geskors word as jy toneel speel in die kryt. Toe was dit nog geklassifiseer as ‘n sport. Later jare het dit verander na vermaak, met baie meer klem op die fisiese voorkoms en die vertoon rondom die geveg. Ja, dis ‘n kuns om reg te val sonder om dronk of naar te word en iets te breek, maar ons het mekaar ráák geskop en dikwels baie seer gekry. Nie soos die Amerikaanse weergawe wat deesdae op die televisie verskyn nie.
So van Amerika gepraat, wat dink jy van iemand soos David Copperfield en David Blaine se kulkunsies?
As iemand glo dat dit van die bose is, omdat hy ‘n hele boeing kan laat verdwyn, is hulle lekker laf. Dis als kamera-truuks. Danksy Hollywood is sien lankal nie meer glo nie!
No comments:
Post a Comment