Die realitiet van realiteitsprogramme
Waarom is dit só gewild?
As ‘n mens deesdae die televisie aanskakel en tussen die kanale rondspring, is die kans baie goed dat jy op enige gegewe tydstip op minstens één realiteitsprogram sal afkom, hetsy Suid-Afrikaans of Amerikaans. En dan is die plaaslike program heel waarskynlik een wat oorgewaai het van oorsee af...
Toe ek onlangs die term ‘realiteitsprogramme’ google, kom ek tot my verbasing op allerlei name soos Proesstraat (wat eintlik improvisasie-teater is), Roer en Woes af, maar vir alle praktiese doeleindes sal ons vir die duur van hierdie artikel by die volgende definisie hou:
Realiteitsprogramme is TV-reekse waartoe deelnemers hulself vir die volle duur van die ongeveer 13 episodes verbind, ten einde die prys(-geld) te kan wen, terwyl hul stelselmatig deur beoordelaars, kykers, ander deelnemers óf ‘n kombinasie van bogenoemde rolspelers geëlimineer word.
In die meeste gevalle neem mense deel vir die prysgeld, maar wanneer dit ‘n reeks vir bekende persone is, soos in die mees onlangse SA Survivor-reeks, is daar natuurlik bykomende faktore soos publisiteit en ook die feit dat welsynsorganisasies daarby sou baatvind. Volgens Okkert Brits is hy bly dat hy deelgeneem het, want as hy dit nie gedoen het nie, sou hy homself verwyt het as hy eendag 50 jaar oud is en nooit weer so ‘n geleentheid gekry het nie.
As ‘n mens egter sien hoeveel duisende ‘stortsangers’ bereid is om hul eie name met ‘n plank te slaan in die eerste rondte van Idols, is sekere lede van die publiek eenvoudig desperaat op soek na ‘five minutes of fame’. Wat Boer soek ‘n vrou betref, is die ‘prys’ die lewensmaat en sielsgenoot wat aan die einde van die reënboog wag om jou hart te steel.
Lynda Smuts van Malmesbury, wat ‘n lelike bloutjie geloop het tydens die tweede reeks, waarsku in die September-uitgawe van Sarie alle voornemende briefskrywers om twee keer te dink voordat hulle hulself blootstel aan die kritiek en oordeel van die kykerspubliek. Sy voel dat sy in ‘n baie swak lig gestel is weens die wyse waarop gesprekke en tonele geredigeer is, aangesien soveel ure tot ‘n enkele episode gereduseer moet word. In die proses is haar ware karakter nie uitgebeeld nie.
Idols-kykers bevind hulself in ‘n vreemde magsposisie deurdat hulle die hef in die hand het met die SMS-stemstelsel. Ja, die einste stemstelsel wat vir groot kontroversie gesorg het aan die einde van die 2009-reeks, toe sowat 200 000 stemme buite rekening gelaat is, met die gevolg dat Sasha-Lee Davids en Jason Hartman op die end die kroon moes deel. Boer soek ‘n vrou se soeke na romanse en kykers se vooropgestelde idees van wie by wie pas, maak dat hulle nooit hul weeklikse dosis misloop nie. Volgens KykNet se Theo Erasmus word die reeks verfilm met deernis, sodat kykers hulle behoorlik kan verkneukel en verlustig in die ontvouing van die een intrige na die ander. Survivor-slawe word op hul beurt geboei deur die onvoorspelbaarheid van die spel, die rugstekery, die menslikheidsfaktor en die tipiese ek-wonder-wat-ek-sou-gedoen-het-scenarios.
Draaiboekskrywer en vervaardiger Johan van Jaarsveld het hom onlangs, in ‘n episode van KykNet se Sewe Sakke Sout, sterk uitgespreek teen realiteitsprogramme: “Dit het mense gewoond gemaak aan die sensasionele, baie sleg tegnies uitgebeeld. ‘n Ding soos ‘n slegte kameraskoot bestaan nie meer nie. Die mense kyk daarna soos na ‘n rugbywedstryd en hulle glo dit wat hulle sien is absoluut wonderlik. Dit hou hulle vasgenael voor die televisie. Dít maak dat begrotings vir dramas, wat gestruktureerd en geoefend en binne sekere dissiplines móét plaasvind, minder word. Die argument is - as ons goeie kyksyfers kan kry op só ‘n klein begroting, hoekom kan júlle dit nie doen vir drama nie?”
Tydens Survivor word Pick ‘n Pay se naamlose produkte nonchalant as vergoeding aangebied wanneer ‘n span ‘n uitdaging wen en die reeds genoemde Idols-fiasko van 2009 het OutSurance glad nie daarvan afgesit om weer die reeks te borg nie, want risiko is tog waaroor versekering eintlik gaan. Intussen floreer Huisgenoot en Landbouweekblad, want Boer soek ‘n vrou sorg gereeld vir opspraakwekkende gebeure wat verkoopsyfers die hoogte laat inskiet. Sensasie is immers presies waarna hulle en hul lesers opsoek is.
Hopelik weeg talent die swaarste wanneer Idols-aanhangers hul oordeel fel, met ‘n onvermydelike mate van voorkoms en eerste indrukke daarby. ‘n Kombinasie van fisieke krag, ‘n sterk karakter, manipulasie-vermoëns en aanpasbaarheid tel beslis in ‘n Survivor se guns. Elma Postma het al by geleentheid Boer soek ‘n vrou se boere beskryf as “ware juwele wat landwyd weggesteek is - aantreklik en intelligent, met harte van goud”. Te oordeel aan die hoeveelheid briewe wat elkeen ontvang, speel die ligging van die plaas, die tipe boerdery en hul sjarme en charisma ook ‘n deurslaggewende rol.
Sandi Schultz, beter bekend as Dr. Jennifer Adams van Binneland Sub Judice-faam, was ‘n deelnemer in die mees onlangse reeks van Survivor. Sy was dapper genoeg om die volgende ongemaklike vrae te beantwoord:
Hoekom het jy aan Survivor deelgeneem?
Ek het geweet ek is ‘n Survivor in my eie lewe, maar ek veronderstel op ‘n manier wou ek dit aan die res van
die wêreld ook bewys. En belangriker nog, ek wou wys waartoe vroue van my ouderdom (46) nog in staat is.
Ek het nooit verwag om te wen nie. Ek wou net die fisiese omstandighede oorleef.
Hoe realisties is dit regtig?
Dit is so realisties as wat die regisseur en die vervaardiger dit wil hê. Alles het regtig gebeur, net nie
noodwendig in die volgorde waarin dit geredigeer is nie. As jy daar op die eiland toilet toe wil gaan, moet jy
ver stap na die aangewese area wat daarvoor bedoel is. As jy jou tande wil borsel, soek jy ‘n stokkie en kou
dit totdat dit sag genoeg is om te gebruik. As jy wil bad, gaan jy in die oseaan in en skrop jouself met ‘n
handvol sand. As jy nie swem en probeer visvang of boomklim opsoek na kokosneute nie, sál jy honger ly.
Hoe keer ‘n deelnemer terug na die normale lewe as die reeks verby is?
Dit was ‘n skok vir die sisteem en terselfdertyd ‘n anti-klimaks. Binne 24 uur nadat ek uitgestem is, is ek na
‘n vyfster-hotel geneem waar ek bederf is en op die hande gedra is. Ek kon my tande borsel en mengel-
drankies drink. Toe ek die eerste keer die yskas oopmaak het, het ek net daar gestaan en kyk...
As jy dit weer móét doen, wat sal jy anders doen?
Een ding is seker - dit was nie maklik nie. Ek het nie vooraf ‘n studie gemaak van vorige reekse om te sien wat die wenners gedoen het om bo uit te kom nie. Ek het vriende gemaak op die eiland, ten koste van myself. Dis waarskynlik hoekom ek nie end-uit gebly het nie. As ek dit moes oordoen, sal ek presies dieselfde doen, want dit is wie en wat ek is!
Watter rol het jou geloofslewe gespeel tydens die reeks?
Ek kan nie regtig sê dat geloof ‘n belangrike rol gespeel het nie. Spiritualiteit wel.
Is dit moontlik om te alle tye Christelike beginsels soos eerlikheid en integriteit uit te leef, en steeds te wen?
Ek sou graag so wou glo, ja! Dit hang seker af van die tipe realiteitsprogram...of dit Big Brother of The Bachelor of Survivor is. In sommige gevalle sal dit makliker wees as in ander.
En die wenner is...! Stel jou voor dat daar drie deelnemers in ‘n huis intrek. Die spens se rakke kreun onder die onbeperkte hoeveelheid voorrade wat daagliks aangevul word. Deelnemer nommer een ontvang ‘n koekroller, ‘n deegspaan, maatkoppies, ‘n klitser en ‘n koekiedrukker. Deelnemer nommer twee ontvang ‘n houtlepel en ‘n soplepel, en nommer drie ontvang ‘n blikoopmaker. Die opdrag is eenvoudig: Maak iets wat jy daagliks aan die publiek kan verkoop by die luik in die tuinmuur. Die beste entrepreneur sal as wenner wegstap. Nommer drie kry homself vreeslik jammer en gaan steek sy blikoopmaker onder sy kopkussing in die kamer weg. Nommer twee kook elke dag ‘n pot boontjiesop en ‘n pot ertjiesop, en die verkoopsyfers lyk heel skaflik, veral op kouer dae. Deelnemer nommer een bak skons, muffins, grootkoeke, kleinkoekies en beskuit, en sy produkte verkoop soos soetkoek! Aan die einde van die eerste week is dit tyd om iemand huis toe te stuur. Big Brother is in sy noppies met Apprentice no. 1 en no. 2, maar no. 3 se blikoopmaker word summier van hom af weggeneem en ook aan no. 1 gegee, waarna hy die huis moet verlaat, want hy is sonder twyfel die Weakest Link. No. 1 kan nou terte by sy repertoire voeg, want uiteindelik het hy toegang tot karamelkondensmelk en tertappels. Persoonlik hou ek meer van die ou vertaling van die bekende gelykenis oor die muntstukke, want daar praat hulle mos van talente. Nietemin, daardie ongemaklike teksvers wat mense so graag buite konteks misbruik, maak soveel meer sin as mens deur die realiteitsbril daarna kyk: “Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.”” - Matteus 25 : 29 Of dit nou die gawe is om te sing, te bid, te kook, te getuig, te skryf, te skilder...gebruik dit elke dag ten volle, want een of ander tyd sal jy moet rekenskap gee van dit wat jy daarmee bereik het. Gaan jy ‘n Survivor wees, of dalk die Biggest Loser? |
Volgende keer as jy jou gemaklik maak in jou gunsteling leunstoel met die afstandbeheer in die een hand en die selfoon in die ander hand, dink mooi watter deelnemer verdien jou stem. Met watter karakter kan jy identifiseer? Wie se optrede is realisties dog bewonderingswaardig? Terwyl jou vlytige vingers die stemmery afhandel, sit agteroor en geniet die privaatheid van jou eie huis, die higiëne van jou badkamer en die toeganklikheid van jou yskas. O ja, en hou tog daardie verwagtinge realisties!
No comments:
Post a Comment