Hoekom Sapiens...
My oorlede ma was altyd spyt dat sy nooit, soos haar bekende patoloog-ouboet, medies gaan swot het nie. Die menslike liggaam het haar altyd gefassineer. Ek, aan die ander kant, raak lighoofdig as iemand net práát van daardie rooi goed wat in ons are vloei - wat nog te sê daarna kyk!
Wat my fassineer is mense se gewoontetjies. In daardie opsig aard ek seker na my pa, want hy het ná sy aftrede soggens én middae in sy gunsteling koffiewinkel deurgebring en meer vir die verbygangers gekyk as wat hy werklik in die koerant of tydskrif op die tafel voor hom gelees het.
So wonder ek oor die volgende verskynsels en is eindeloos opsoek na antwoorde vir dié vreemde verskynsels:
1. HOEKOM verkies sommige mense om vir die hysbak te wag, sonder dat hulle ‘n stootwaentjie of winkeltrollie rondstoot? Dit terwyl ek wens my twee ‘rokkies’ was nou al groot genoeg om met dapper en stapper die wandelgange e rolstrappe te trotseer. Veral sedert ‘n naby familielid eenmaal tydens ‘n kragonderbreking haar weekoue seuntjie in ‘n deursigtige hysbak moes voed, ten aanskoue van tientalle kassiere wat gewag het dat die kragkrisis opgelos word.
2. HOEKOM spandeer ‘n mens ‘n reuse hap uit jou wintervakansie om ‘n legkaart sorgvuldig te bou, net om hom weer te vernietig tot ‘n volgende keer? Die blou lug se stukkies lyk later almal ewe blou en ewe skeef en krom. Maar jy druk deur, want die satisfaksie van die voltooide meesterstuk en die bewondering van jou huismense en besoekers maak dit alles die moeite werd. ‘n Paar dae later word die eetkamertafel benodig vir die een of ander okkasie en die onvermydelike kan nie verder uitgestel word nie. Eina! Daar gaan al jou harde werk terug in die boksie waar hy vandaan gekom het ...tot ‘n volgende foltering.
3. HOEKOM is die puntsitters altyd eerste by die kerk? Dié wat nie omgee om in die middel van die blok te sit nie, arriveer gewoonlik op die nippertjie en moet met moeite verby skuur om ‘n sitplekkie te kry. Die ironie is dat dit juis die laatkommers is wat nodig het om naby die paadjie te sit, want dis die jongspan, wat tydig en ontydig wil gaan ‘fluit’, wat veroorsaak het dat die gesin op nommer 99 arriveer het.
4. HOEKOM verkies die meerderheid mense om op die trapmeul in die gimnasium hulself moeg te stap of hardloop op pad na nêrens, terwyl hulle eerder in hul eie buurt of iewers in die natuurskoon vars lug kon inasem? Daar buite is veel interessanter dinge om te sien en hoor as op die miniatuur televisieskermpie wat veronderstel is om die oefenfanatici te vermaak. Wie stel in elk geval belang in die oorsese markte of walglike musiekvideos wat dié kanale oorheers? Nie eens ‘n hamster op ‘n wieletjie nie, as jy my vra.
5. HOEKOM parkeer al meer mense op plekke wat vir liggaamlik gestremdes gereserveer is, terwyl hulle en hul passasiers absoluut niks makeer nie? Hulle behoort dankbaar te wees dat hulle nie met ‘n voertuig hoef te ry wat ten duurste aangepas moes word met handkontroles en ‘n meganisme vir die rolstoel op die dak nie. As hulle voor die keuse te staan kom, sal hulle beslis kies om verder te parkeer, eerder as om rolstoelgebonde te wees, so waarom lééf hulle nie hierdie keuse uit nie?
6. HOEKOM het die meerderheid gratis televisiekanale deesdae ‘n inkopie-uur in die middel van die dag, waar die een uitgerekte, herhalende advertensie na die ander vertoon word? Dan moet daar mos sowaar mense wees wat daarna kyk. “En dis nie al nie!” Daar moet inderdaad genoeg ondersteuning van kopers wees, anders sou dit mos nie finansieel haalbaar gewees het om soveel lugtyd te koop vir daardie betrokke produk of diens nie.
7. HOEKOM vergelyk ons onsself voortdurend met ander? My status in die samelewing, my motors, my huis, my liggaamsbou, my kinders se sportprestasies en akademie. Ons is elkeen uniek geskape. Wees liewer net die beste JY wat jy kán wees en vergeet van die res. Dit lyk dalk op die oog af of dit met die buurman of kollega so wonderlik goed gaan, maar elke huis het maar sy kruis. Party s’n is medies of finansieel van aard, ander se verhoudinge of werksomstandighede dryf hul teen die mure uit. Die Joneses leef waarskynlik agter maskers om húl seer en teleurstellings vir die res van die wêreld weg te steek. Geld is gerieflik, daarmee kan niemand stry nie, maar daar is baie dinge wat mens nie daarmee kan koop nie.
8. HOEKOM doen ons nie aan ander soos ons aan onsself gedoen wil hê nie? As jy te laat besef dat jy in die verkeerde baan is om regs te draai, hoop jy vir die beste dat iemand in daardie einste baan vir jou ‘n gaping sal gee, maar wanneer iemand anders môre in ‘n soortgelyke penarie verkeer, maak jy asof jy hom nie sien nie en ry ast’ware op die ander motor se buffer, net om seker te maak. Jesus het in Matteus 7:12 gesê: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.”
9. HOEKOM mors ons so met kos? Ons verbeel ons mos dat daar Sondae rys, vleis en aartappels op die spyskaart móét wees. Om van die soetpatats en glansworteltjies nie te praat nie. En wat is ‘n Sondagmaal sonder doekpoeding?! Dit steek my altyd dwars in die krop om te sien hoeveel kos op mense se borde agterbly wanneer dit kombuis toe gaan, veral by troues en ander funksies waar hulle die geleentheid gehad het om self te skep by ‘n buffet-ete. Hulle het mos gewéét hulle gaan dit nie alles baasraak nie!
10. HOEKOM ontleed ‘n mens so graag die onbeplande gebeure in jou lewe, in ‘n poging om God se doel daarmee vas te stel? Ons is gedurig op soek na ‘n rede en uiteindelik spekuleer ons in elk geval net, want dit is ons nie beskore om als te weet en te verstaan nie. Paulus het immers in 1 Korinthiërs 13:12 geskryf: “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werlik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”
Bestaan daar ooit antwoorde op hierdie raaisels? Ek weet sowaar nie. Ek weet wel die mens, ook bekend as Homo Sapiens, is en bly nou maar eenmaal ‘n interessante spesie, hetsy van binne of buite gesien!
No comments:
Post a Comment