
ystervrou en speldekussing tegelyk
Deur Retief Loubser
Die voormalige Britse Eerste Minister, Margaret Thatcher, het by geleentheid gesê dat sy haar in die politiek begewe het weens die konflik tussen goed en kwaad, maar dat sy glo die goeie sál uiteindelik oorwin.
Op Maandag, 25 Oktober 2010 het ons eie Ystervrou en Premier van die Wes-Kaap, Me. Helen Zille, die senior lidmate van Stellenberg N.G. Kerk kom toespreek, nadat die geleentheid reeds twee keer uitgestel moes word as gevolg van krisisse wat elders opgeduik en haar onmiddellike aandag geverg het. Die doel van haar besoek was om te vertel hoe moeilik, maar uiters belangrik, dit is om haar geloofslewe en haar beroep met mekaar te vereenselwig.
Ter inleiding het sy ‘n staaltjie gedeel rondom die lewe van die tweede president van die VSA, John Adams, wie se vrou, Abigail, op ‘n stadium per brief haar lot bekla het dat sy soos ‘n enkelouer moes voort ploeter terwyl haar man byna nooit tuis was nie. Sy antwoord, ook per brief, was as volg: “I must study politics and war, that our sons may have liberty to study mathematics and philosophy. Our sons ought to study mathematics and philosophy, geography, natural history and naval architecture, navigation, commerce and agriculture in order to give their children a right to study painting, poetry, music, architecture, statuary, tapestry and porcelain.” In elke suksesstorie van ‘n demokrasie is daar mense wat dit bewerkstellig het. Die VSA het daarin geslaag om ‘n raamwerk daar te stel en jare later het hulle die vrugte gepluk van ‘n demokrasie waar godsdiensvryheid vandag nog beskerm word. Net so moet ons ook ons verantwoordelikheid teenoor opkomende geslagte nakom.
“Dus is dit geweldig belangrik dat ons nie sinies is jeens die politiek nie, maar dat ons verstaan hoe geweldig belangrik dit is dat ons in hierdie geslag en ook die volgende geslag daarin sal slaag om die raamwerk en die wortels van die regstaat in Suid-Afrika te vestig, sodat ons kinders ook hulle regte as vanselfsprekend sal kan beskou en in vryheid en in ‘n ekonomiese, groeiende volhoubare land hul toekoms sal kan bou.”
Voorts het Me. Zille, met die Afrikaanse Bybel in haar hand, twee skrifgedeeltes in Engels geresiteer. Die eerste was uit Miga 6:8. “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.” Die tweede gedeelte was die alombekende opsomming van die Wet soos opgeteken in Matteus 22:37 & 38. “Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ “
Die Here het egter nooit gesê presies hoe moeilik dit soms mag wees om hierdie opdragte uit te voer nie. Veral nie as daar mense is wat altyd bereid is om ‘n situasie te gebruik vir eie politieke gewin nie. Daarom lê sy letterlik nagte wakker oor die grondkwessies in Hangberg, Houtbaai. “Mens is nooit seker of jy die regte besluite geneem het nie, want daar is argumente en teen-argumente uit alle oorde. En midde-in hierdie Babelse verwarring moet mens ‘n besluit neem.”
Dit bring ons by nog ‘n parallel tussen haar en Margaret Thatcher, wie soos volg aangehaal kan word: “If you set out to be liked, you would be prepared to compromise on anything at any time, and you would achieve nothing.” Me. Zille is bekend daarvoor dat sy opstaan vir die waarheid, reeds sedert haar dae as joernalis, want sy glo vas as dit by regte en vryhede kom is “’n onreg aan een ‘n onreg aan almal.”
In reaksie tot die vergelyking tussen haar en Margaret Thatcher, het sy die kompliment soos volg ontvang: “Mense maak die vergelyking omdat ons albei politici is in moeilike tye waar ons besluite moes maak, te midde van sterk teenstanders. Dis nie altyd maklik om ‘n pad te loop terwyl mense jou heeltyd probeer kelder nie. Sy’t dit beleef en dit baie goed gedoen en ek moet in ‘n heel ander omstandigheid my eie pad probeer vind. Ek dink ek is makliker van stryk gebring. Ek is te geneig om na ander mense te luister en te dink dalk het hulle ‘n punt beet...”
Ten slotte doen sy ‘n ernstige beroep op kerke om te help om kinders van die strate af te hou in ‘n poging om dwelmmisbruik te bekamp, want daar word jaarliks R6 miljard bestee aan die gevolge van drank- en dwelmafhanklikheid - geld wat baie beter aangewend sou kon word op vele ander terreine. Kerke moenie alleenlik op Sondae oop wees nie, maar daar moet elke dag vrywilligers wees om te help met huiswerk, sportafrigting en ander gesonde vermaak en rekreasie in gebiede waar familiewaardes skipbreuk ly. Kinders hunker na ‘n toekomsvisie en het ‘n behoefte aan rolmodelle wat daagliks goeie sedes en waardes uitleef.
Terwyl sy vertel van die probleme op nogmaals probleme rondom die grondbesettingskwessies in Houtbaai en die dwelmverslawing van derduisende jongmense, besef ek hoe gepas die fynbosrangskikking daar neffens haar is. Sy is in vele opsigte ‘n speldekussing. Nou wel nie ‘n lid van die Kaapse flora nie, maar daagliks word daar nuwe naalde en spelde bygevoeg. Sonder om te kla aanvaar sy hulle maar gelate, want dis mos haar werk. Netelige kwessies onder die vaandel van gesondheidsorg, opvoeding, behuising of maatskaplike sorg. Almal maak seer. Party meer as ander, maar wanneer sy so openhartig daaroor praat, slaan haar stem kort-kort deur omdat dit sake is wat haar werklik na aan die hart lê. Soos die e-pos wat sy ontvang het van ‘n dowe dogter wat op eie houtjie fondse insamel vir ‘n gehoorapparaat, omdat haar ouers nie een kan bekostig nie. In haar privaat hoedanigheid kan sy somtyds ‘n verskil help maak, maar as premier is daar soveel kanale en prosedures wat gevolg moet word en oral is daar nood.
Dan verstaan ‘n mens waarom sy in 2007 openlik haar steun getoon en in die proses arrestasie in die gesig gestaar het toe sewe betogers in Mitchell’s Plein hul standpunt teen dwelms gelug het, maar in dieselfde asem ook waarom sy in 2008 as Wêreld Burgemeester van die Jaar aangewys is. Inderdaad ‘n formidabele vrou...’n ystervrou wat ons voortdurende voorbidding bitter nodig het!
No comments:
Post a Comment